VOEL AFRIKA SE HARTKLOP:
DIE BESTE VAN BOTSWANA
WAAR ONS WAS, NATUURBEWARING, NATUUR | MARCH 16, 2020
Wanneer die grondpaaie en afgeleë plekke jou naam roep, is dit tyd om die lang pad te vat na Botswana vir ‘n Afrika avontuur. Ons het onlangs 5 natuurreservate en nasionale parke in Botswana besoek.

Paspoort: afgemerk. Kamptoerusting: afgemerk. Herwinningstoerusting: afgemerk. Ekstra spaarwiele: afgemerk. Musiek en audio-boeke: afgemerk. Goeie gees: definitief afgemerk.
Waar beter voel mens waarlik die wildheid van Afrika as in Botswana, een van Suid-Afrika se buurlande. Hier vergeet jy van die digitale wêreld, en word jy verstom deur die mooi van die natuur. Vir hiérdie land is bewaring belangrik, met meer as 17 % van hul oppervlak as bewarings-area verklaar.
Ons reis het bestaan uit ‘n sirkel-roete vanaf die Kaap tot by die Victoriavalle (in totaal ongeveer 6500 km), waarvan ‘n groot gedeelte grond- en veral diep sandpaaie was, en ons 4×4 voertuie noodsaaklik was.
Hier is 5 van die hoogtepunte van ons reis:
1. Sandpaaie deur die Kgalagadi-oorgrenspark
AREA: 15 000 km²
WAAR OM TE BLY: Nossob Ruskamp en Mabua kampe
KYK UIT VIR: leeus, jagluiperd, luiperd, hiëna, trek troppe van groot herbivore soos blou wildebeeste, springbokke, elande en rooi hartebeeste. Meer as 200 voël species wat insluit aasvoëls, arende en sekretaris voëls

Rooi dune, droë rivierlope, oop vlaktes met min plantegroei waar gemsbok, springbok, eland en blou wildebeeste die seisoene volg en predatore kort op hulle hakke is – dit is Kgalagadi. Die grootste gedeelte van die park lê aan Botswana se kant van die Nossobrivier. Kgalagadi beteken “plek van dors” en is geleë in die suidelike Kalahari woestyn.
Na ‘n paar jaar van erge droogte kan mens hier werklik die effek daarvan sien en ervaar, en ten spyte van vroeë reëns, was dit steeds baie droog en die diere min. Te midde van ‘n groot sandstorm by Nossob ruskamp, het ons ‘n besondere mooi oomblik beleef: ‘n groot woestynleeu mannetjie (met swart maanhare) wat soos ‘n skaduwee uit die stof verskyn het, en kilometers vêr gestap het na ‘n beligte watergat. Terug in die kamp met die braaivleis op die kole, het ons ook kennis gemaak met ‘n paar van die kamp se “wilde” inwoners…. rooi jakkels, ratel en selfs ‘n luiperd (wat snags kom water drink by die swembad).
Die pad na Mabuasehube (bestuur deur die Departement van Wild- en Nasionale Parke (DWNP)) is besonders, en hierdie baie bekende 4×4 roete vereis ‘n betroubare en bekwame voertuig. Hier hoor jy die leeu NABY jou brul, en ons het luiperd spore oral in en om ons kamp gesien. Kyk waar jy trap, en koes vir die skerpione en slange rondom jou kampplek.
2. Moremi, plek van water
AREA: 5,000 km²
WAAR OM TE BLY: Xakanaxa kamp, op die oewer van die Khwai rivier op die Xakanaxa meer, in die hartjie van die Moremi wildreservaat
KYK UIT VIR: Wildehond, luiperd, buffel, swart renoster, leeu, olifante en rooi lechwe (basterwaterbok)

Nie baie mense kry die kans om deur die Moremi wildreservaat te ry in Desember nie, gewoonlik is die grootste gedeelte van hierdie reservaat heeltemal onbegaanbaar in die reën seisoen. Te danke aan die aanhoudende droogte, kon ons oral ry, en selfs die berugte Derde en Vierde brûe was nie ‘n probleem nie.
Hier is natuurfotogeleenthede volop, en baie om voëlkykers oor opgewonde te maak. Hierdie unieke reservaat grens aan die Okavango Delta en ons het veral van die woud gedeeltes gehou. By Xakanaxa het ons kamp opgeslaan, en ook hier was daar ‘n paar asem-snakende oomblikke tussen seekoeie, buffels en hiënas wat kom draai het om en deur ons kamp. Die uitsigte oor die vleie is besonders (veral Paradise Pools). Stilte, afsonderinge en die wete dat jy nou diep in die bos is – word goed vasgevang wanneer jy ‘n ys-koue St Louis bier in die hand het en die bloedrooi son sien sak oor Dead Tree Island.
3. Min kom by die Savuti vlei area
AREA: 11 700 km²
WAAR OM TE BLY: Savuti kamp
KYK UIT VIR: Leeus, hiëna, kwagga en jagluiperd. Hierdie area is bekend vir die jaarlikse migrasie van kwaggas en hulle predatore, en ook ‘n ryk voëllewe

Daarna het ons die pad gevat na die Chobe Nasionale Park – bekend vir ‘n trop leeus wat aangepas het om die olifant as prooi te vang. Hierdie park is slegs vir 4×4 voertuie, en is vir ernstige wildernisliefhebbers.
Op die rowwe Savuti vleipad het ons seker die mooiste uitsig gesien van die hele reis: ‘n oop vlakte met olifante so ver soos jy kan sien! ‘n Trop van meer as ‘n 100 buffels het ook verby ons gedraf. Opmerklik was die byevanger voëls wat rondom ons voertuig gevlieg het, besig om hul aandete te geniet – in ‘n area bedek met uitgebreide savannah en rollende grasvlaktes. Hier moet ‘n man mooi loop badkamer toe (of eerder ry – die badkamer self is gebou soos ‘n fort om die olifante van die water weg te hou) want die leeus en ander roofdiere loop deur die kamp self – daar is geen veiligheidsdrade nie. Allerhande oë rondom jou kampvuur is deel van die pakkie hierso.
Vroegoggend het ons ‘n besondere oomblik beleef toe ‘n jong mannetjie leeu ‘n jong blou wildebeest voor ons platgetrek het, en ver gestap het, met sy ontbyt in sy bek. Hier is ook talle kremetartbome (Boabab/Adansonia digitate), en die reuse een in Savuti is ‘n goeie kans vir bene strek en fotos neem.
4. Chobe Rivier Oewer
AREA: 11 700 km²
WAAR OM TE BLY: Chobe Safari Lodge, Kasane
KYK UIT VIR: groot troppe olifante, Sable en Kaapse buffels, Poekoe bokke (slegs hier voorkom), en baie watervoëls.

Na ‘n hele paar dae in die bos, was ons reg vir bietjie gemak in die beskawing, en die Chobe Safari Lodge het nie teleurgestel nie. Hierdie is ‘n goeie basis om vanaf te werk om die Serondela area (of Chobe rivier oewer) te verken – in die Noordooste van die Chobe Nasionale Park. Kasane verbind 3 lande: Botswana, Zimbabwe en Zambia. Ons het lekker aktiwiteite hiér aangepak: ‘n luukse sonsondergang aandete op ‘n boot op die Chobe rivier, gedroom van tiervisse vang, ‘n dag uitstappie na die Victoria watervalle in Zimbabwe en wild gekyk rondom Kasane. Hier is gras groen water tonele met groot troppe bokke, en die spesiale Poekoe bok, wat net hiér voorkom.
Kom ons wees eerlik, Botswana in Desember is warm, en die swembad by Chobe Safari Lodge met sy uitsigte oor die Chobe rivier was fantasties. So ook die spa en die sonsondergang uitsigte oor die rivier vanuit die Sedudu kroeg.
5. Khama Rhino Sanctuary
AREA: 8585 hektaar
WAAR OM TE BLY: Khama Rhino Sanctuary
KYK UIT VIR: wit en swart renosters, meer as 30 ander dier spesies en meer as 230 voël spesies.
Na ‘n paar ander afdraaie het ons die pad terug begin vat na Suid-Afrika. ‘n Goeie oornag (of twee nagte) stop om te oorweeg is die Khama Rhino Sanctuary (naby Serowe) ‘n gemeenskap gebaseerde wildprojek. Hulle belangrikste werk is hul renoster teel program. Tot op datum het die park reeds 16 renosters hervestig. Die park is klein maar bied baie – ons het ons verkyk aan die renosters wat oral rondstaan, families kwaggas en blou wildebeeste en baie voëls. Hierdie is ‘n mooi park – met baie groen plantegroei en uitkyk geleenthede oor hul panne.
Botswana reiswenke
– Hierdie is Malaria wêreld – wees voorbereid. Ons gebruik ‘n natuurlik produk (Artemisia afra)
– Maak seker jou kampligte is geel, en trek nie insekte nader nie
– Onthou om jou voertuig se GPS sagteware op te dateer voordat jy wegtrek
– Verwag gereelde padblokades en veeartseny-beheerpunte
– Ys is goud werd, koop genoeg as jy kan kry
– Kampvrieskas is noodsaaklik, en onthou ekstra zip-lock sakkies om dit in te stoor
– Kies klein grensposte, en onthou jou ZA plakker (en ander verpligte benodighede vir jou kar)
– Onthou ekstra diesel, water en 2 spaarwiele, en belê in banddrukmeters
“Wat ‘n unieke ervaring en voorreg om hierdie mooi land beter te kon leer ken. Ons sien jou weer Botswana.””
– TINA VLOK

Tina uses her knowledge of all that is digital, and combine it with her love for nature and beautiful things – colours, leaves, flowers and patterns. She is our website developer. Travel recharges her inspiration and creativity levels, and Botswana is among her most recent Africa adventures.
Recommended Articles

Bringing the arid zone to life online
The arid zone of South Africa may sound devoid of life – but in fact quite the opposite is true. The arid and semi-arid regions are home to incredible biodiversity. And that’s one of the reasons why the Arid Zone Ecology Forum works – as a partnership

‘n Kwaliteit webtuiste vir ‘n kwaliteit produk
AJ du Toit en sy familie boer in die Rûens area in die Overberg, en is die 4de generasie op die plaas. Oor die jare het AJ al hoe meer ontevrede geword met die kwaliteit van die beskikbare vleis, wat vol hormone en antibiotika was.

Words matter: Why subtle word changes can inspire big action
Words have power. Every minute, spoken and written words change the way we think, which influences our choices and actions, and inevitably impacts the people and world around us.
LoveGreen is more than the name of our team.
It is

Email: hello@lovegreen.co.za | Phone: 072 8848 468